Daniël Stephanus Rudolph du Toit, alias Reënwolf, gebore 5 Oktober 1992, is 'n Suid-Afrikaanse sanger en liedjieskrywer en deel van die groep Spoegwolf. Hy is ook mede-eienaar van die restaurant Drum in Stellenbosch, waaruit die produk Drum Loud Coffee en ander projekte ook spruit. Du Toit is mede-kurator en mede-stigter van die aanlynplatform, Die River, waar Suid-Afrikaanse kunstenaars inspirasie kan put en samewerking bewerkstellig. Hy is die regisseur en vervaardiger van die aanlynprogram Middernag met Marguerite. Behalwe vir musiek en skryfkuns, is Du Toit ook 'n entrepreneur wat help met die vervaardiging en verspreiding van die restaurant se unieke produkte, Drumfood Holdings Pty LTD, en stigter van die maatskappy The Astronomy Wine Company waar unieke wyne gebottel word en plaaslik en internasionaal versprei word.