
Len en sy pa, Seun, verskil soos dag en nag. Laasgenoemde is 'n puriteinse suurknol in sy laat tagtigs, en Len - in sy vroeë veertigs en onlangs geskei - het net een ding op die brein: seks. Hulle kan nie meer verskillend wees nie - en ook nie méér eenders nie. Albei is storievertellers. Wanneer Len probeer om Seun se stories oor die Tweede Wêreldoorlog te ontrafel, ontdek hy dat die verskrikking daarvan reg op eie drumpel is - net soos die van die nuwe Suid-Afrika. Seun is 'n briljante post-apartheid mylpaal in die letterkunde. Dis 'n aweregse, sappige kragtoer waarin Sonnekus die sg. Noughties briljant vasvang. Seun is histeries snaaks, en 'n skokkend reguit ontbloting van politiek as 'n tragiese klug. Dit verken die donker kuns van seksuele verowering en begeerte, en onthul die brutale angs rondom misdaad, vervreemding en ouer word. - vanaf uitgewer se flapteks